Klipduiweltjies

Klipduiweltjies

December 18th, 2014


Starbucks: hierdie mense verdien sowaar hul geld op ‘n waardige manier.
Terwyl studente wakker word in hulle colleges, akademiese drag netjies opgevou in hulle kas saam met meimeringe oor die Sokratiese Metode en die beginsel van onsekerheid, terwyl die geregistreerde bedelaar in Queenstraat sy hond ‘n skop gee om wakker te word vir die dag se werk en terwyl die busbestuurder wat ons aangery het van Heathrow sy e-pos lees oor melkerige tee in ‘n kombuis iewers in die buitewyke van die dorp, kan ek my knus latte in vrede geniet.
Een of ander 50ger jazz-koning pruil in die agtergrond. Ek behoort sy naam te ken, maar dit ontgaan my.
Dalk na nog ‘n slukkie skuimerige kafeien …
Later gaan ons na Einstein se swartbord kyk in die History of Science museum. Ek is kinderlik opgewonde daaroor. Wat ook al daarop staan – sou hy dit anders uitgedruk het as hy geweet het dat iemand die skrifseltjie so sou bewaar?
So los ons debris agter ons wat soms betekenis kry in ‘n ander konteks. Dit kan gevaarlik wees: die onbewaakte blik, die Freudiaanse slip, die krabbels in die kantlyn. Die nonsens wat mens skryf op ‘n Saterdagoggend in Starbucks, terwyl Oxford wakker word.
Die klipgesiggies wat die rande van die hoe mure van die geboue hier versier is nie gargoyles nie (‘n ware gargoyle het ‘n werk: hulle is gemaskerde geute en hul taak is om reenwater weg te voer en die dak droog te hou). Hierdie outjies is grotesques. Die grotesques van Oxford pas die strate op met ongekentelde humor. Groot oe, ‘n speelsheid in vorm en hulle statigheid aan die wortels op en plaas die hele plek in fanstasie.
Die Groen Man in die hoek van die Sheldonean teater – hy is nog nuut, ‘n onlangse toevoeging, maar reeds tydoos. ‘n Ry teen die muur van Exeter College wat die naam van die eerste vroulike hoof uitspel. Elkeen met sy eie storie, of deel van ‘n gemeenstkaplike verhaal wat vertel word vir die wat boontoe kyk.
Nog ‘n gunsteling karakter wat ek teegekom het: die Lincoln imp. Die outjie is verewig in steen bo teen die muur tussen die digte ivy van die groot quad waar die gras so perfek is omdat niemand daarop mag loop nie. Ek is seker die imp kom skuur daarop met sy kaal boude met elke sekelmaan.
Die storie is dat twee van hulle, twee sulke imps, in ‘n kerk ingevaar het en amok begin maak het. Baie soos Dr Seuss se Thing One en Thing Two). ‘n Engel het it ‘n gesangeboek gespring en die outjies berispe. Een imp (ek weet nie wat op die ou einde van hom geword het nie – ek vermoed hy is nog los iewers) het onder ‘n tafel gaan wegkruip van pure skrik. Die ander een het sy tong uitgesteek en met ‘n paar obsene gebare aan die engel verduidelik wat hy van sy ma dink.
Die engel het in ‘n buis van on-engleagtige woede die imp in steen verander.
En daar sit hy nou, hoog tussen die takke, en loer vir ons met ‘n vonkel in sy klip-oog.
Ek hou van hom.