‘n Storie is ‘n wonderlike ding

‘n Storie is ‘n wonderlike ding

February 3rd, 2015


“Drink hierdie pille drie maal per dag,” sê die dokter.

“Maar mevrou Grans het dieselfde pille gehad en sy is dood op vier-en-dertig!” sê die buurvrou.

Jy vra die apteker vir raad. “Hierdie pille help om die lipofostinamied in die bloed te verlaag. Dit stimuleer dan die pankreas om superdisoksied radikale na die klampus van die brein te stuur, en foptesteroon af te skei. Dit sal jou beslis beter laat voel, veral as jy te veel gabbastilmetale in jou sisteem het.”

Wie moet jy glo?

Is iets meer geloofwaardig as dit vol feite is? (Al is die feite dalk loutere nonsens*)

Hoekom het ons stories nodig?

Ons is almal maar net besig om dag vir dag die wêreld om ons saam te flans in ‘n poging om te probeer agterkom wat nou eintlik aan die gang is.

Met ons oë as kameras, ons ore as mikrofone en bietjie ruik, voel en proe vir ekstra skop bou ons vir onself die werklikheid, stukkie vir stukkie.

‘n Tuisgemaakte konstruksie van realiteit.

Dit is ‘n harde en ‘n eensame taak.

As iemand vir ons ‘n storie vertel, kan ons agteroor sit en dit alles in ander hande laat – minstens vir ‘n rukkie. So ‘n storieverteller is hopelik meer bedrewe in die skep van ‘n sit-sit ervaring van gekonsentreerde emosie met veel meer skop as elke dag se rompslomp.

Romanse, avontuur, fantasie. As die bloed nou en dan spat om van ons eie opgehoopte frustrasies ontslae te raak, des te beter.

Stories kan die hart vinniger laat klop, maar dit breek nie bene nie.

Selfs die mees ingewikkelde navorsingartikel propvol grafieke en statistieke is meer verteerbaar as daar iewers ‘n storielyn skuil. ‘n Hoekom, ‘n waarom en ‘n groot SIEDAAR!

Hoera vir stories.

 

*Daar is definitief nie iets soos lipofostinamied, superdisoksied, foptesteroon of gabbastilmetale nie. Nie eens al het jou brein ‘n klampus nie.