Niksdoen is ‘n kuns wat mens nie moet onderskat nie

Niksdoen is ‘n kuns wat mens nie moet onderskat nie

January 11th, 2015


Almal het een of ander talent. Sing, dans, moeilikheid maak . . .

Sommige geseëndes onder ons is gebore niksdoenners. Andere moet met doelmatigheid hierdie fyn kuns bemeester.

Die eerste vereiste is dat jy min of meer met jouself oor die weg moet kom. Niksdoen is nie iets wat jy in ongure geselskap wil aanpak nie. Vrede is nodig. As jy niks belangriks vir jouself te sê het nie, het jy al ver gevorder. Ernstige innerlike gesprekke sal alles belemmer.

Al wat oorbly is om dan niks te doen nie.

Moet net nie vir ‘n oomblik dink dat niksdoen tot niks lei nie. Niksdoen maak ruimte vir dinge om te gebeur. Spasie is nodig vir enige nuwe dinge wat dalk mag vorendag kom en as jy dit nie aktief ruimte skep nie, bly dinge benoud en beperk.

Niksdoen is dus ‘n uiters kreatiewe offening.

Ek skryf op allerhande plekke. Op reis. In restaurante. Dis ‘n nare gewoonte waarvan mens moeilik onstlae raak. My lewe is vol rekenaars en notaboeke. Elke plek het ‘n moontlikheid om besig te raak en wegkom om sommer net niks te doen gebeur nie sommer nie. Dit moet aktief nagejaag word. Stap help, of om op ‘n plank agter die verste brander te dopper. Daar waar papier en selfone nie kan bykom nie.

Maar mens moet ook weet wanneer om op te hou, want niksdoen is erg verslawend.

Wees gewaarsku!