Voordag

Voordag

December 18th, 2014


k wonder wat die kat oorkant die straat daarvan dink as ons so wegraak op een van ons reise.
Sy is nie baie slim nie (met alle respek aan haar, want sy is ‘n dame). Sy reken waarskynlik ons hou op bestaan, iets soortegelyk aan die dood, en dan pop ons weer ‘n week of wat later weer wonderbaarlik terug in ons ou lewens en gewone roetine.
Katte het waarskynlik ‘n heel ander persepsie van hierdie dinge, weens hul nege lewens.
Hoekom ‘n kat nege lewens nodig het is nog ‘n ander vraag. Die konsep van reinkarnasie is aantreklik – daar is immers baie dinge wat gedoen wil word. Maar nege lewens vat dit dalkies net te ver, dit is nou as jy in dieselfde kat-lyf moet bly.
Blykbaar is die weer by ons bestemming misrabel. ‘n Front beweeg in van die Noorde om ons te verwelkom. Spesiale wense van die ysbere en so. Daar is natuurlik niks aan te doen nie en ons het ‘n opvou-sambreel.
Ek is vreemd-onwillig om my knus voorstedelike bestaan met sy bekende onsekerhede te ontduik, al is dit net vir ‘n tydjie. Die vreesloosheid van my jeug het al sy les geleer en ek weet lughawens en vliegtuie is ongemaklik. Maar om eers daar te wees! Om die Oxford van die boeke en my verbeelding met die werklikheid te vergelyk! Natuurlik sal ons vasgevang word in net nog ‘n dimensie van persepsie (Lyra se Oxford, Willem se Oxford?), maar …
More-oggend die tyd sit ons soos ertjies in ‘n peul gepak, iewers oor die middelandse see, en eet spek en eiers uit klein vierkantige plastiekbakkies. En ‘n paar ure later: Hopla!